Noorde-boere soek grootskaalse weiding in Angola

Daar is kommer oor die stand van sake in die Ohangwena-streek. Die goewerneur, Walde Ndevashiya sê boere in sy streek vra dat amptelike reëlings getref word sodat hulle weiding in Angola kan bekom. Die poreuse grens laat in elkgeval toe dat bees heen en weer oor die grens beweeg en dit is reeds generasies die praktyk, daarom die voortdurende kommer oor bek-en-klouseer omdat Angolese owerhede dit nie streng en doeltreffend beheer nie. Maar, nou vra die boere Namibiese owerhede om kontak met hul Angolese eweknieë te maak om grootskaalse weiding in die buurland beskikbaar te stel as gevolg van ondergemiddelde reënval regoor die streek.