Uitbreking van Krim-Kongokoors verby

Die Namibiese minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula sê die uitbreking van Krim-Kongokoors is verby. Hy sê die 15de Junie het die 28ste dag na die eerste geval verteenwoordig en sonder nog ‘n geval, is die uitbreking verby. Die eerste geval is op 17 Mei aangemeld met die pasiënt wat die volgende dag gesterf het en laboratoriumtoetse wat op 21 Mei die siekte bevestig het. Shangula sê daadwerklike stappe is geneem en 56 hoë-risiko kontakte is onmiddellik opgespoor en gemonitor. Bosluisbehandeling is ook aan net minder as 4 900 bees, 1 778 kleinvee en 228 perde en donkies toegedien. Daar is ook bewustheid geskep op 17 plase oor die korrekte hantering van lewendehawe.