Nooddienste is steeds op die ongelukstoneel by Husab-myn
Namibian Marshal Ranger Sean Naude sê nooddienste is nog steeds op die ongelukstoneel naby die Husab-myn waarin 17 mense vanoggend beseer is. ‘n Privaat voertuig van ‘n Swakop Uranium-werknemer het met ‘n minibus van ‘n kontrakteur by die myn gebots. Die ongeluk het te midde van mistige weer langs die kus plaasgevind. Geen sterftes is op die toneel aangemeld nie en al die beseerdes is na verskeie hospitale afgevoer en ontvang behandeling. Naude sê twee insittendes van die minibus met ernstige beserings moet na Windhoekse hospitale vervoer word, waarvan een per lugambulans gevlieg moet word. Swakop Uranium bedank al die nooddienste wat spoedig hulp verleen het op die ongelukstoneel, asook die Namibiese polisie, Motorvoertuig-ongelukkefonds, gesondheidsministerie, Swakopmund-munisipaliteit en Rössing Uranium Mine.