Bedreiging van terrorisme laag in SAOG-streek, maar…

Die bedreiging wat binnelandse of internasionale terrorisme in Suider-Afrika inhou, het relatief laag gebly vergeleke met ander streke. Die adjunk-inspekteur-generaal vir operasies van die Namibiese polisie, generaal-majoor Elias Mutota sê patrone het egter verskuif, soos die ongekende voorvalle van insurgensie-aktiwiteite in Cabo Delgado in Noord-Mosambiek. Mutota was die hoofspreker vandag tydens die SAOG-vergadering van Interpol-hoofde van Nasionale Sentrale Buro’s op Swakopmund. Hy sê gevolglik is die uitruil van operasionele inligting noodsaaklik om terrorisme te takel en terselfdertyd wettige ondersoeke te doen. Mutota sê dit is noodsaaklik dat polisiemagte regoor die wêreld meer inligting en intelligensie teen terrorisme met Interpol deel.