Oponthoud in Pole was onnodig – Rhoode

Die hoof van die Suid-Afrikaanse Presidensiële Beskermingsdienste, Wally Rhoode, het die vertraging van ‘n ondersteunende SAA-vliegtuig deur die Poolse regering by die Warskouse Chopin-lughawe bestempel as sabotasie van President Cyril Ramaphosa se sending. Ramaphosa lei ‘n afvaardiging van Afrika-leiers op ‘n vredesending na Oekraïne en Rusland. Rhoode sê ondanks die nodige wapenpermitte en vliegpermitte na Pole, is 100 gespesialiseerde beskermingsdienste-personeel en joernaliste vir meer as 24 uur op die vliegtuig gehou voordat hulle toegelaat is om af te klim.

Die Poolse Grenswag-agentskap hou vol dat Ramaphosa se veiligheidspan nie toestemming gehad het vir wapens in Pole nie. Intussen het die president wel samesprekings gevoer met Volodymyr Zelensky. Hy het aan die Oekraïense president gesê die oorlog met Rusland moet deur onderhandeling besleg word. Ramaphosa sal na verwagting vandag die Russiese President Vladimir Putin, ontmoet.