Venaani eis antwoorde by Calle oor Rundu-melkplaas
Die leier van die amptelike opposisie die PDM-party eis antwoorde oor die status van die Uvhungu Vungu-suiwelplaas. In ‘n ope brief vra McHenry Venaani die landbouminister Calle Schlettwein of die evaluasie- en beoordelingsfases in verband met die projek voltooi is en wanneer die plaas operasioneel sal wees. Die plaas, aan die buitewyke van Rundu in die Kavango Oos-streek, is in 2014 teen ‘n koste van 141 miljoen Namibiese dollar opgeknap en in 2021 het media berig dat daar steeds nie ‘n druppel melk op die stuk grond geproduseer is nie. Schlettwein het toe, verskeie groenskemas, waaronder die plaas geval het, oopgestel vir die privaatsektor. In Februarie vanjaar het Schlettwein aangekondig dat die plaas oorhandig is aan ‘n gesamentlike onderneming van drie privaatoperateurs afkomstig van Indië, sowel as plaaslik. Die toekenning is 25 jaar geldig. Venaani sê die plaas sal ‘n beduidende rol in voedselsekerheid speel, mits dit melk produseer, veral onder die moeilike omstandighede waaronder die suiwelbedryf homself vind.