Net helfte van die nodige fondse vir Siriese bystand ingesamel
Siriërs ervaar volgens die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis so ‘n ernstige nood dat hulle baie meer nodig het as wat vandag moontlik is. Die organisasie sê slegs die helfte van die geteikende bedrag wat nodig is vir bystand is ingesamel. Humanitêre behoeftes is hoër as ooit tevore en na 12 jaar se oorlog is dit vererger deur ‘n ekonomiese krisis wat die Siriese pond laat tuimel en feitlik die hele land onder die broodlyn gestoot het. VN-agentskappe het skenkerlande wat hierdie week in Brussel vergader, gevra vir 11,1 miljard Amerikaanse dollar oor die volgende jaar vir beide Siriërs tuis en diegene wat na buurlande gevlug het. Meer as 6 miljoen Siriërs is in hul eie land ontheem en 5,5 miljoen Siriese vlugtelinge woon in naburige Turkye, Libanon, Jordanië en Irak sowel as Egipte.