Google bemark Bard, maar waarsku sy eie werkers oor kletsbotte
Alphabet Incorporated, wat Google besit, waarsku sy werknemers oor hoe hulle kletsbotte, ook sy eie Bard-kletsbot, gebruik. Die waarskuwing kom te midde van sy bemarkingsveldtog regoor die wêreld om die kletsbot bekend te stel. Volgens Reuters waarsku Google dat geen konfidensiële inligting gedeel moet word nie. Google sê navorsing toon dat kunsmatige intelligensie inligting wat hy gegee word, kan repliseer en dus, is daar ‘n risiko vir lekkasies. Alphabet het ook sy ingenieurs gewaarsku om geen rekenaar en digitale kodes wat ‘n kletsbot genereer te gebruik nie. Die parlement van die Europese Unie het die week die skep en implementering van regulasies in verband met kunsmatige intelligensie goedgekeur.