Vyf dood in vlaag van missielaanvalle deur Rusland
Rusland het vanoggend ‘n vlaag missielaanvalle op stede regdeur Oekraïne uitgevoer, waarin minstens vyf mense, onder wie ‘n kind, omgekom het. ‘n Ma en haar jong kind is in Dnipro dood, terwyl drie mense in ‘n woonstelgebou in Uman gesterf het. Amptenare in die hoofstad Kiëf sê elf missiele en twee aanvals-hommeltuie is deur die lugverdedigingstelsel afgeskiet. Volgens internasionale media volg die aanvalle te midde van Oekraïnse magte se voorbereidings vir ‘n aanval met nuwe toerusting, insluitend tenks, wat deur Westerse bondgenote verskaf is.