Lula steek weer sy neus in Europese konflik in

Brasiliaanse president, Luiz Inacio Lula da Silva, het die Russiese inval in die Oekraïne gekritiseer, maar sê daar is geen nut om nou te sê wie reg is in die konflik nie. Sy kommentaar kom nadat hy ‘n storm onder Westerse bondgenote ontketen het deur vroeër vandeesmaand te verklaar dat hulle die gevegte verleng deur wapens aan die Oekraïne te verskaf.  Hy het in Spanje gepraat en meen wat nou moet gedoen word is dat die oorlog gestaak moet word. Hy het vroeër vandeesmaand China besoek en gesê Washington moet ophou om die oorlog aan te moedig en dat die Verenigde State en die Europese Unie oor vrede moet begin praat. Hy het ook voorgestel dat dat die Oekraïne moet instem om die Krim-skiereiland prys te gee.