Amushelelo en kie verskyn weer op 12 Mei

Die saak van Michael Amushelelo, en sy twee medebeskuldigdes Inna Hengari en Dimbulukeni Nauyoma, is tot 12 Mei uitgestel. Die saak hou verband met klagtes na die mislukte optog teen jeugwerkloosheid op Onafhanklikheidsdag. Hengari en Nauyoma is albei vry op borg van 5 000 Namibiese dollar, maar die staat weier borg vir Amushelelo omdat hy reeds vry is op borg vir twee vorige sake wat dieselfde klagtes inhou. Sy prokureur Kadhila Amoomo sê die staat wil bepaal in watter hof hulle Amushelelo wil verhoor. Die aanklaer-generaal oorweeg dit ook om sy twee vorige sake saam met die een te voeg. Amoomo sê daar is ook reeds aansoek gedoen by die hoërhof om te aansoek te doen om te appelleer teen die weiering van borg maar ‘n datum is nog nie bepaal nie.