NamPower vra vir verhoging van amper 17%
NamPower het ‘n tariefverhoging van 16,87 persent aangevra. Volgens wat berig word, moet die Elektrisiteitsbeheerraad teen 30 April die aansoek oorweeg na ‘n vergadering wat op 31 Maart plaasgevind het. NamPower presteer normaalweg uiters goed maar het in die vorige boekjaar erge uitdagings beleef en ‘n verlies van 1,2 miljard Namibiese dollar vir die jaar tot 30 Junie 2022 aangeteken, teenoor ‘n wins van 1,2 miljard in 2021. Die raadsvoorsitter Daniel Motinga sê die koste van kragopwekking het gedurende die boekjaar met 14 persent van 4,5 miljard dollar na 5,1 miljard dollar gestyg. Om die stand van sake te vererger, het daar lae reënval in die Kunenerivier se opvangsgebied voorgekom wat Ruacana se opwekkingsvermoë vir die jaar op net 781 gigawatt-ure te staan gebring het, teenoor 1 505 wat in die 2019-20 boekjaar opgewek is. Die aanleg kon net minder as 20 persent van die totale vraag na elektrisiteit bydra.