VRK se uitklopfase begin aanstaande naweek

Die Verenigde Rugbykampioenskap bereik aanstaande naweek die uitklopfase met drie Suid-Afrikaanse spanne wat meeding om ʼn plek in die halfeind. Die verdedigende kampioen, Stormers, is aanstaande Vrydag gasheer vir die Bulle in Kaapstad terwyl die Haaie na Ierland reis vir ʼn ontmoeting met die span bo-aan die punteleer, Leinster. Die ander kwarteindstryde word beslis tussen Ulster en Connacht, en Glasgow Warriors en Munster. Die halfeindstryde vind op die 13de van aanstaande maand plaas en die eindwedstryd twee weke later.