R. Kelly gaan 30-jaar vonnis appelleer
Die omstrede sanger R. Kelly gaan appelleer teen sy skuldigbevinding in New York waar hy 30 jaar tronkstraf opgelê is omdat hy sy sterstatus gebruik het om vroue en kinders seksueel te misbruik. Hy is in September 2021 skuldig bevind op agt klagte van sekshandel en een klag van rampokkery. Die aanklagte is gegrond op verskeie aantygings wat oor meer as twee dekades strek. Kelly se regspan het reeds die appèlhof genader om sy skuldigbevindings om te keer of ‘n nuwe verhoor te beveel. Hulle sê die bewyse uit vorige verhoudings en getuienis van voormalige werknemers moes nie oorweeg word nie. Sy regspan voer aan dat die regering nie sy bewyslas in die hof nagekom het nie, al het hy ‘n jurie gehad wat hom op alle aanklagte skuldig bevind het.