Putin sê later of hy Brics-beraad bywoon
Die Kremlin in Moskou het in ‘n verklaring gesê dat die Russiese President Vladimir Putin nader aan die tyd sal bevestig of hy die Brics-beraad in Suid-Afrika, gaan bywoon. Die beraad sal in Augustus plaasvind. Die Brics-groep bestaan uit opkomende lande soos Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. Die Internasionale Strafhof het in Maart ‘n lasbrief uitgereik vir Putin se inhegtenisname in verband met beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne. Suid-Afrika is ‘n lid van die Strafhof en win tans regsadvies in oor wat hom te doen staan indien Putin na Suid-Afrika sou kom.