Rugby: Bulle ransel Leinster af
Rugby: In die Verenigde Rugby-kampioenskap het Munster gisteraand teruggeveg na ‘n groot agterstand om ‘n gelykop-uitslag van 22-elk af te dwing teen die Haaie op Kingspark. Die Haaie, wat met rustyd 22-3 voor was, moes die wedstryd wen om ‘n plek te verseker in volgende jaar se ander Europese kompetisie, die Uitdaagbeker. Op Loftus Versfeld in Pretoria het die Bulle die voorlopers op die punte-leer van die VRK, Leinster, met 62-7 afgeransel, wat hulle ‘n kans gee om vyfde in die kompetisie te eindig. Dit was Leinster se ergste loesing ooit in die kompetisie, terwyl die Bulle hulle onoorwonne rekord teen Europese spanne op Loftus behou het. Hulle het nege drieë gedruk teen die een van Leinster. Vroeër het die Leeus hul staatmaker, Jaco Kriel, gegroet met ‘n 50-35-oorwinning teen Zebre.