Opgradering begin aan Tsumeb se dam
Die Tsumeb-munisipaliteit gaan vanaf môre groot instandhouding aan die dorp se hoof-waterreservoir, die Tupperwaredam, onderneem. Die projek sal na verwagting tot einde Junie voortduur en kan lae watertoevoer en druk na verskeie gebiede veroorsaak. Dit kom ná maande se gesukkel om die dorp van water te voorsien wat aan standaarde vir menslike gebruik voldoen. In Desember het Dundee Precious Metals ‘n hoë vlak van mikroörganismes in die dorp se water opgespoor. Die munisipaliteit het intussen sy eie ondersoek gedoen, maar die laboratorium-resultate is nog nie bekend gemaak nie. Die munisipaliteit raai inwoners aan om water as ‘n voorsorgmaatreël op te berg en spaarsamig te gebruik gedurende hierdie tydperk.