Liggaam geïdentifiseer wat in Thabo Bester se sel verbrand is

Die liggaam wat aangetref is in die Suid-Afrikaanse ontsnapte moordenaar en verkragter Thabo Bester se sel, is uitgeken. DNS-toetse het bevestig die liggaam is dié van Katlego Bereng. Daar is aanvanklik gedink dit is Bester se liggaam. Die owerhede het egter verlede maand toegegee hy het ontsnap uit die Mangaung Korrektiewe Sentrum nadat die media berig het die liggaam in sel 35 was nie syne nie. Bereng se pa, Batho Mpholo, het bevestig die familie is Vrydag in kennis gestel dit is die liggaam van hulle 31-jarige seun. Hy sê die familie is diep ontsteld.