Vakbonde verwerp Eskom se loonverhogings
Die vakbonde NUM, Numsa en Solidariteit sê Eskom het hulle loonverhoging-eis van die hand gewys en bygevoeg die werksvoorwaardes moet dieselfde bly. Die kragvoorsiener het ‘n aanbod van ‘n 3,75-persent verhoging ter tafel gelê. Die 2023 Eskom-loononderhandelings het in Johannesburg begin en strek oor drie rondes tot die einde van Mei. Die woordvoerder van Numsa, Phakamile Hlubi-Majola, sê al drie vakbonde het Eskom se aanbod van 3,75 persent verwerp omdat dit onder die inflasiekoers van 7,1 persent is.