Ma wat vermoedelik kinders in Addis vermoor, terug op haar pos in Whk
Plaaslike media berig dat die vermeende moordenaar van haar twee kinders in Addis Abeba, Kristofina Amutenya terug is op haar pos by die ministerie van myne en energie. Daar was beweer dat Amutenya in Desember 2020 haar kinders Jenay, 9, en Jane, 3, by die Namibiese ambassade in Addis vermoor het. Die staat het destyds besluit om haar plaaslik te vervolg omdat Ethiopië die doodstraf het. Dit is moontlik omdat die twee kinders tegnies in Namibië dood is. Amutenya was getroud met Petrus Haufiku, wat ook werksaam by die ambassade is. Daar is wyd bespiegel dat sy en Haufiku gewikkel was in ‘n lelike egskeiding en dat hy blykbaar toesig oor die kinders gekry het. Die moordklagte is in 2021 deur die staat teruggetrek na haar prokureur, Kadhila Amoomo, suksesvol betoog het dat die staat fouteer het om haar op die moordklagte in hegtenis te neem met haar aankoms in die land. Amutenya het ook vermoedelik haar 13-jarige stiefseun probeer vermoor maar hy het oorleef. Vroeër vanjaar het owerhede bevestig dat die ondersoek steeds voortduur maar dat dit kompleks is as gevolg van die feit dat die beweerde misdaad in ‘n ander land plaasgevind het.