DBN kry verstekvonnis teen regsfirmaApril 21, 2023

Regter Collins Parker het aan die Namibiese Ontwikkelingsbank ‘n verstekvonnis teen die bekende regsfirma Tjombe-Elago Incorporated toegestaan. Ingevolge die bevel moet die firma net minder as 412 000 Namibiese dollar aan die bank betaal. Dit kom na die bank die firma sowel as die regsman en vennoot Petrus Elago hof toe gesleep het vir dienste wat hy nie gelewer het nie. In sy stukke sê die bank hy het die regsfirma aangestel om ‘n 8,4 miljoen dollar-saak namens hom te hanteer. Die bank sê daar is nie by die hof opgedaag nie, hofreëls is verontagsaam en meer. Terwyl die respondente aanduiding gegee het dat hulle sal verdedig, het hulle geen stukke, soos ooreengekom in die saakbeplanning, ingedien nie. Die eerste stukke moes reeds in Februarie ingedien gewees het. Die bank het gevra dat die hof die beplande verdediging ter syde stel en dat ‘n verstekvonnis vir die bedrag uitgereik word. Parker het dit so toegestaan.