Neckartal-projekte vorder goed
Die 2,4 miljard Namibiese dollar Neckartal-projek bly in die nuus. Die Namibiese regering het reeds die nodige grond bekom met 4 250 hektaar wat van pas is vir besproeiing. Drie plase van net meer as 19 000 hektaar is aangekoop in die verband teen ‘n koste van 18,6 miljoen Namibiese dollar. Volgens die minister, Calle Schlettwein, het ‘n studie, wat reeds in 2010 uitgevoer is, getoon waar grond wat vir besproeiing gebruik kan word rondom die dam geleë is. Sowat 1 000 werksgeleenthede sal tydens die konstruksie-fase van die besproeiingsaanlegte geskep word en wanneer aanplantings begin en die projekte op dreef is word daar verwag dat 12 600 seisoenale werksgeleenthede geskep sal word. Schlettwein het vroeër melding gemaak van waardetoevoeging op die produkte.