DBN dagvaar Tjombe-Elago Inc., vir dienste nie gelewer nie

Die Namibiese Ontwikkelingsbank dagvaar die bekende regsfirma Tjombe-Elago Incorporated vir net minder as 412 000 Namibiese dollar. In sy stukke sê die bank hy het die regsfirma, sowel as die regsman en vennoot Petrus Elago, aangestel om ‘n 8,4 miljoen dollar-saak namens hom te hanteer. Die bank sê daar is nie by die hof opgedaag nie, hofreëls is verontagsaam en meer. In die huidige eis, sê die bank aan regter Collins Parker dat die respondente weer versuim om die hof se bevele na te kom. Terwyl die respondente aanduiding gegee het dat hulle sal verdedig, het hulle nog geen stukke, soos ooreengekom, ingedien nie. Die eerste stukke moes reeds in Februarie ingedien gewees het. Die bank vra vandag dat die beplande verdediging ter syde gestel word en dat ‘n verstekvonnis vir die bedrag uitgereik word.