Miljoene vir voedselhulp vir duisende huishoudings
Voedselhulp en ramprisiko-bestuur raak al hoe meer belangrik in Namibië namate die weerpatrone meer wispelturig raak. Die adjunk-premier Netumbo Nandi-Ndaitwah sê amper 140 miljoen Namibiese dollar is vanjaar opsy gesit vir bystand wat droogtehulp in die Kunene-, Erongo- en Omusati-streke insluit, sowel as bystand as gevolg van die efundja in die Ohangwena-, Oshana- en Omusati-streke. Die ondersteuning word tot Mei-maand volgende jaar verleng. Die kantoor van die eerste minister het verlede jaar droogtehulp na Kunene-streek, dele van Erongo-streek en dele van Omusati-streek gekoördineer, wat voedselbystand en watervoorsiening aan gemeenskappe behels het. Nandi-Ndaitwah sê die aantal huishoudings wat bygestaan is, is 35 002 in Kunene-streek, 6 185 in Erongo-streek en 15 620 in Omusati-streek, teen ‘n koste van 67 miljoen dollar tot dusver.