Putin onttrek uit kernwapenverdrag, Biden sê oorlog toets vryheid

Die Russiese president, Vladimir Putin, het aangekondig sy land onttrek hom aan ʼn sleutel kernverdrag met Amerika nadat hy die Weste daarvan beskuldig het hy het die oorlog in Oekraïne begin. Die verdrag plaas ʼn beperking op hulle strategiese kern-arsenale. Putin het sy staatsrede gelewer enkele dae voor die eerste herdenking van Moskou se inval in sy buurland. Volgens hom moes Rusland met geweld reageer om die oorlog stop te sit wat hy sê deur die Weste begin is. Putin beweer Oekraïne was in gesprek met die Weste oor wapens voor die inval, wat volgens hom ‘n spesiale militêre operasie is. Intussen het Amerikaanse President Joe Biden Pole besoek. Hy sê die Oekraïnse oorlog is ‘n toets vir demokrasie en vryheid.