Tropiese sikloon Freddy sal 2 miljoen mense in Indiese Oseaan raak

Die organisasie sonder winsbejag, Save the Children, sê die tropiese sikloon Freddy sal ongeveer twee miljoen mense in en om die Indiese Oseaan raak. Die organisasie se direkteur vir Madagaskar, Tatiana Dasy, sê die eiland ly steeds weens die uitwerking van sikloon Batsirai en die tropiese sikloon Emnati wat verlede jaar deur die suidoostelike dele gewoed het. Meer as 200 mense het gesterf. Dasy sê Freddy sal die tweede sikloon wees wat Madagaskar vanjaar tref ná Cheneso verlede maand wat 33 mense se dood veroorsaak en 34 000 dakloos gelaat het.