DRK-rebellegroep ontken aanval op VN-helikopter
Die M23-rebellegroep wat bedrywig is in die oostelike gebiede van die Demokratiese Republiek van die Kongo ontken dat hulle verantwoordelik is vir die aanval op ‘n VN-vredesmaghelikopter waartydens ‘n Suid-Afrikaanse soldaat dood is. Sersant Vusi Mabena is begin Februarie dood toe daar op die helikopter geskiet is. ‘n Woordvoerder vir die M23-rebelle het ‘n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om die voorval te ondersoek. Die woordvoerder van die rebelle, Lawrence Kanuka beskryf die geweld in die ooste van die DRK as ‘n volksmoord deur regeringsmagte. Kanuka sê hulle is nie in die gebied bedrywig waar daar op die helikopter geskiet is nie. Hy sê die regeringsmagte gebruik ook ander wapens as die rebelle.