Onrus in Lagos weens tekort aan kontant
Polisieversterkings is in dele van Nigerië se grootste stad, Lagos, ontplooi in reaksie op onrus wat glo verband hou met ‘n voortslepende tekort aan kontant. Frustrasie oor ‘n tekort aan die nuut-ontwerpte banknote het verlede week tot gewelddadige protesaksie gelei. Vrese bestaan dat die wydverspreide protesaksie in die suide van die Nigerië die reeds onstabiele situasie in die land kan vererger. Volgens berigte is sommige van die banke in Lagos steeds gesluit. President Muhammadu Buhari het die land toegespreek en opdrag gegee dat die land se sentrale bank die ou 200 naira-note terug moet plaas in omloop om die kontanttekort te verlig. Sy versuim om die groter denominasies van ou 500 en 1000 naira-note in te sluit, is wyd gekritiseer.