Geingob en Guterres hou samesprekings by AU

Namibiese President Hage Geingob het vandag in Addis Abeba, Ethiopië, by die 36ste gewone beraad van die Afrika-unie, samesprekings met die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, gehou. Geingob as die voorsitter van die SAOG-orgaan oor politiek, verdediging en veiligheidsamewerking, het die konflik-situasie in die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo met Guterres bespreek, insluitend die ontplooiing van die Oos-Afrikaanse Mag. Geingob het die streek se pogings uiteengesit om vrede in Oos-DRK te bevorder en benadruk die voorrang van diplomasie bo oorlog in die oplossing van die konflik. Hy sê dat Namibië die Luanda- en Nairobi-prosesse ondersteun. Geingob het beklemtoon jy maak nie vrede met jou vriende nie, jy maak vrede met jou vyande.