Oorsig oor ’22 reënseisoen toon gemengde uitslae

Die Namibiese Meteorologiese Dienste het die klimaatverslag vir 2022 bekend gestel. Uitsonderlike goeie reën is vir die tweede agtereenvolgende jaar in die suidooste van die land in 2022 aangemeld, terwyl normale tot bogemiddelde reënval elders waargeneem is, maar onder-gemiddelde reënval in die noordwestelike streke. Bo-gemiddelde jaarlikse reënval is waargeneem oor groot dele van die streke van Khomas en Erongo asook oor dele van Omaheke, Otjozondjupa en Oshitoko. Die noordoostelike streke en gebiede aangrensend aan die suidelike helfte van die Namib-woestyn het hoofsaaklik gemiddelde jaarlikse reënval ontvang. Onder-gemiddelde jaarlikse reënval het egter oor die Noordweste voorgekom en het meestal die westelike Kunene, Omusati, suidelike Oshana en die Namib-woestyn geraak. Volgens berigte het 17 mense in 2022 hul lewens verloor weens weerlig met alle sterftes wat hoofsaaklik in die Noorde aangemeld is.