Tasa verwelkom FlySafair se roete na Windhoek
FlySafair gaan sy streeksroete-netwerk uitbrei met beplande vlugte na Windhoek, Harare en Zanzibar. Die Suid-Afrikaanse laekostelugdiens het vandag aangekondig dat hy toestemming van die Internasionale Lugdiensraad gekry het om kommersiële vlugte na dié drie bestemmings te vlieg. Skedules vir die nuwe Windhoek- en Harare-roetes sal na verwagting teen die derde kwartaal van vanjaar beskikbaar wees. Die skedule vir die roete na Zanzibar sal waarskynlik teen die tweede kwartaal van vanjaar beskikbaar wees, danksy ‘n bestaande huur-ooreenkoms. FlySafair het ook toestemming gekry om vyf bykomende vlugte na Mauritius aan te bied, wat moontlik lei tot daaglikse vlugte na die eiland. Die lugredery sal voor einde Maart drie vliegtuie by sy vloot voeg, om op die nuwe roetes gebruik te word. Nathaly Ahrens van die Toer- en Safari-vereniging van Namibië, Tasa, sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit sal vlugpryse verlaag.