Nganate vra dat uraan-eksplorasie in Omaheke hervat word

Plaaslike media berig dat die Omaheke-goewerneur Pijoo Nganate ‘n beroep op Namibiërs doen om vrese oor uraan-ontginning in die streek te laat gaan en Uranium One te verwelkom. Nganate sê sou uraan-ontginning toegelaat word sal Leonardville heeltemal omskep word en daar is oor die algemeen baie voordele vir die hele streek. Die eksplorasiewerk is onlangs gestop deur landbouminister Calle Schlettwein. Hy het nie ‘n waterpermit aan die Russe toegeken nie en sê die Stampriet-bekken se bronne is te kosbaar om dit in ‘n risiko te plaas. Uranium One sê hy sal tot 500 miljoen Amerikaanse dollar in die volgende 25 jaar in die land belê. Die maatskappy benut ‘n uiters moderne metode, in situ-loging, maar, daar is kommer oor die besoedeling van die akwifer. Die uraan is tussen die waterliggame geleë.