Zambezi-rivier in vloed, gebeurlikheidsplanne is nodig
Die vlakke van die Zambezi-rivier by Katima Mulilo styg steeds en is tans bo 4 meter. Volgens die Namibiese Hidrologiese Diens, wanneer die rivier die 4-meter vlak verbysteek, beteken dit dat hy sy oewer oorstroom en water stoot in die oostelike Zambezi-vloedvlaktes in. Die diens sê vroeë vloedwaarskuwings en -gereedheid word aangeraai vir die gebied. Die Okavango-rivier se vlakke by Rundu is amper op 6 meter, hoër as verlede jaar die tyd. By Ruacana vloei die Kunene-rivier teen 229,8 kubieke meter per sekonde. Volgens die diens moet gebeurlikheidsplanne vir die Ohangwena-, Oshana-, Omusati- en Zambezi-streke geaktiveer word deur die instellings wat verantwoordelik is vir vloedrampparaatheid, reaksie en herstel. Gemeenskappe word ook gewaarsku om uiters versigtig te wees.