Werkers by Keetmans-munisipaliteit wil staak

’n Staking dreig by die Keetmanshoop-munisipaliteit nadat loononderhandelinge op ’n dooiepunt uitgeloop het. Plaaslike media berig dat die Karas streekskoördineerder vir die Namibië Openbare Werkersunie, bekend as Napwu, Kleophas Katuuo sê die werkers het ten gunste van ‘n staking gestem. Dit volg nadat die Arbeidsarbiter op 30 Januarie ’n sertifikaat van ’n onopgeloste dispuut uitgereik het. Katuuo het die Keetmanshoop-munisipaliteit se bestuur daarvan beskuldig dat hulle versoenende vergaderings wat daarop gemik was om die loongeskil te beëindig, afgekeur het, sodat werkers geen ander keuse gelaat is as om te staak nie. Maar, hy voeg by die vakbond se deure bly oop vir onderhandeling. Werkers eis ‘n 5 persent salarisverhoging. Die waarnemende uitvoerende hoof van die munisipaliteit Cathy Boois het net bevestig dat hulle bewus is van die dreigende staking maar wou niks verder sê nie omdat sy eers ‘n week gelede die pos beklee het.