Suide se druiwe, rosyne vorder goedFebruary 12, 2023

Die Namibia Grape Company verwag vanjaar ‘n verbeterde oes. Volgens Gideon Nuunyango, besturende direkteur, kan daar ook meer tydelike werksgeleenthede geskep word. Hy het met die plaaslike uitsaaier NBC gesels en sê die rosyntjies wat geproduseer word, sal in Suid-Afrika verpak word. Die Aussenkehr-vallei is bekend vir sy buitengewone lang sonskynure, wat die gebied in staat stel om vroeër in die seisoen te produseer as die meeste ander druiweproduserende lande. Dit gee Namibiese druiwe ‘n aansienlike prysvoordeel in die Europese Unie en ander markte. Die maatskappy het sowat 420 voltydse werknemers met ‘n bykomende 1 800 seisoenale werkers. Die Aussenkehr-vallei is die tuiste van sewe druiweproduserende maatskappye wat ‘n gesamentlike arbeidsmag van byna 15 000 Namibiërs het.