Vloede in Oos-Kaap, waarskuwings vir Gauteng
Honderde mense is uit Komani, formeel bekend as Queenstown, in die Oos-Kaap ontruim. Dit kom omdat swaar reën erge oorstromings in die dorp veroorsaak het. Die Chris Hani-distriksmunisipaliteit sê sy rampbestuurspanne het mense in die gebiede wat die meeste geraak is, ontruim. Geen sterftes is nog aangemeld nie. Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n vlak twee-waarskuwing vir erge donderstorms in Gauteng uitgereik. Die weerdiens sê dat die provinsie regdeur vandag buie kan verwag en waarsku dat die swaar reën tot plaaslike oorstromings in sommige gebiede kan lei. Motoriste en inwoners word gewaarsku om versigtig te wees.