Polisie bevestig ondersoek na N$60 miljard se bedrog, kenners vra vrae
Die Namibiese polisie het bevestig dat daar wel ‘n ondersoek van stapel gestuur is na beweerde bedrog van 60 miljard Namibiese dollar by die sogenaamde Credit Union Namibia. Adjudant-offisier Silas Shipandeni het die bevestiging aan Kosmos 94.1 Nuus gemaak.
Maar, daar is vrae oor die beweerde misdaad, veral in verband met die syfer, wat amper so groot is soos die land se hele begroting. Theron Rupping Louie, wat aangegee word as die hoof uitvoerende beampte van die unie, het ook aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die berigte verkeerd is en dat hy nog met die polisie sal vergader in die verband. Daar word berig hy het die klag gemaak en dat die bedrog in Desember verlede jaar plaasgevind het.