Meer as 1 000 Covid-vrywilligers ruk op vir vaste aanstellings
Covid-19-vrywilligers in die Khomas-streek sal vandag ‘n vreedsame betoging hou. Die groep wil permanent in diens geneem word en voer aan die gesondheidsministerie se werwingsproses is onregverdig. Die kontrakte van al 1 444 Covid-19 vrywilligers is in Oktober verlede jaar beëindig. Die vakatures is toe op 31 Desember 2022 geadverteer. Die groep sê hulle het op 31 Januarie ‘n brief aan die eerste minister en die ministerie gerig waarin hulle ‘n afspraak vra. Hulle sê hulle het nie ‘n bevredigende reaksie ontvang nie, en dus het hulle besluit om op te ruk. Hulle vra dat die gesondheidsministerie vakatures vul uit die arbeidsministerie se databasis waarop hulle gelys is en wat goedgekeur is. Maar die ministerie het geadverteer en die hoeveelheid poste stem nie ooreen met die getalle wat die streke gehad het nie. Hulle meen daar word nie op elke streek se behoeftes mense gewerf nie. Gesondheid se uitvoerende direkteur, Ben Nangombe, sê die ministerie het toestemming gekry om slegs 871 vakatures te vul, afhangend van die beskikbaarheid van fondse.