Geen nuwe skool in 7 jaar gebou nie – ministerie onder skoot vir besteding
Die Namibiese onderwysministerie het onder skoot gekom vir sy besteding aan infrastruktuur. Volgens die Tender Bulletin is dit die sewende jaar waar daar geen nuwe konstruksie-projekte in die regering se ontwikkelingsbegroting is vir skole of klaskamers nie. Ongeveer 32 persent van skole in die land het geen telekommunikasie vermoë nie terwyl 18 persent sonder elektrisiteit is en 12 persent heeltemal sonder sanitasie is. In 2020, berig die Tender Bulletin, het net 13 000 staatsleerders, of te wel 2 persent van die totale leerders in die land, toegang tot digitale leerplatforms gehad. Van die ministerie se 43 miljard Namibiese dollar se begroting oor die afgelope drie jaar is net 815 miljoen dollar bestee op ontwikkelingsprojekte met ‘n gemiddeld van 16 persent wat bestee word op leermateriaal en 3 persent op pre-primêre onderwys. ‘n Totaal van 84 persent word aan salarisse bestee. Die nuus kom soos ‘n tentskool vir 730 leerders met 12 onderwysers vandag op Rundu oopmaak.