Windhoek Stadspolisiehoof reageer op polisiebrutaliteit
Polisie-brutaliteit in Namibië is weer onder die loep nadat ‘n man van Keetmanshoop dood is na hy glo wreed deur lede van die Spesiale Reserwemag aangerand is. Twee Nampol-beamptes is in verband met die dood van die 31-jarige Elleste Plaatjie by Keetmanshoop in hegtenis geneem. Hulle sal Maandag in die landdroshof in die Suide-dorp op aanklagte van moord verskyn nadat Plaatjie aan sy beserings in die Katutura-staatshospitaal in Windhoek beswyk het. In ‘n ander voorval wat oor die feesseisoen in die Noorde plaasgevind het, sal die polisiebeampte wat ‘n man hardhandig agter in ‘n polisiebakkie geboender het, aangekla word. Sy dossier sal na die aanklaer-generaal gestuur word vir ’n beslissing. Kosmos 94.1 Nuus het met Stad Windhoek-polisiehoof, Abraham Kanime, gepraat oor die belangrikheid van vertroue tussen die polisie en gemeenskappe.