Katima-vissmouse kla oor Des-Feb verbod

Vissmouse op Katima Mulilo het hulle frustrasie aan plaaslike media uitgespreek oor die ministerie van visserye se verbod op visvang in die riviere van die Zambezi-streek vanaf 1 Desember tot 28 Februarie. Volgens die ministerie is die verbod uiters belangrik omdat dit die vis ‘n kans gun om aan te teel. Maar, die smouse sê hulle word genoodsaak om 210 kilometer ver te reis na Livingstone in Zambië om vis aan te koop by akwakultuurboere daar. Daar is volgens die berigte meer as 108 vroue op Katima wat staatmaak op visverkope om kos op die tafel te sit. Hulle sê vervoer na Livingstone kos 850 Namibiese dollar en dan is daar die oorgrenskostes van tot 400 dollar. Die vis self is ook duur en by die opemark op Katima moet hulle 180 dollar maandeliks betaal. Terwyl dit eintlik ‘n goeie tyd van die jaar moet wees vir verkope, sê die vroue hulle sukkel meeste oor die periode.