Depp dagvaar Heard, sy dagvaar terug

Johnny Depp dagvaar sy eksvrou Amber Heard vir 50 miljoen Amerikaanse dollar in skadevergoeding vir wat hy as laster beskryf. Die saak begin vandag in Fairfax in Virginia in die VSA. Die 58-jarige Depp sê Heard het hom belaster deur ‘n opiniestuk in die aanlyn weergawe van die Washington Post te publiseer wat haar beskryf as ‘n oorlewende van huishoudelike en geslagsgeweld. Op haar beurt eis Heard 100 miljoen dollar in skadevergoeding in dieselfde saak omdat Depp haar ‘n leuenaar genoem het. Depp het reeds ‘n lastersaak in Brittanje verloor in die verband. Depp se regspan sê die saak word in Virginia aangehoor omdat die Post se aanlyn weergawe daar gepubliseer word maar daar is sommige kommentators wat meen Virginia se wette is meer te vinde vir klaers in lastersake.