Rooilyn-saak terug in die hof vandagJanuary 25, 2022
Die omstrede rooilyn-hofsaak van die Affirmative Repositioning-leier Job Amupanda is vandag weer voor regter Shafimana Ueitele. Die saak sal sekerlik net vlugtig voorkom omdat die regter tans die borgaansoek van die Fishrot-verdagtes aanhoor. Amupanda het vroeër noodgedwonge aanpassings aan sy eis gemaak nadat van die respondente, wat die landbouminister, die Vleisraad en die prokureur-generaal Festus Mbandeka insluit, aangedui het hulle sal die hof vra om sekere van sy stellings nietig te verklaar. Hulle meen nie net dat hulle irrelevant is nie, maar ook dat sommiges teen die reëls van die hof is. Amupanda het dus in sy aangepaste eis gesê die rooilyn is opgerig om die boere in die suidelike helfte van die land te beskerm maar, die beskerming word nie aan die boere noord van die rooilyn gebied nie. In sy mening, diskrimineer die kordonheining dus teen dié boere. Hy voeg by dat die rooilyn die beweging van diere en swartmense beperk en is dus ongrondwetlik en ‘n oorblyfsel van die koloniale tyd. Die aansoek volg nadat vleis op 17 Mei by hom by Oshivelo gekonfiskeer is.