Bekroonde Ugandese satiriese skrywer kry borgtog
‘n Hof in Uganda het borgtog toegestaan aan ‘n bekroonde satiriese skrywer wat aangekla word omdat hy die land se regerende familie beledig het, maar hy mag nie met die media praat nie. Internasionale nuusagentskappe berig Kakwenza Rukirabashaija se prokureurs beweer hy was in aanhouding gemartel. Rukirabashaija is na ‘n reeks onvleiende Twitter-plasings daarvan aangekla dat hy veteraanpresident Yoweri Museveni en sy magtige seun, Generaal Muhoozi Kainerugaba, “versteur” het. In een plasing het hy Kainerugaba as “vetsugtig” en ‘n “suurknol” beskryf. Hy beplan om sy 77-jarige pa se opvolger te wees.