Ent asb voor Kersfees, vra ShangulaSeptember 28, 2021
Kenners voorspel dat die volgende vlaag Covid-infeksies moontlik na die einde van die jaar plaaslik kan voorkom, as gevolg van die wyse waarop die virus hom elders in die wêreld gedra. Daar is ook reeds plaaslik kommer uitgespreek oor ‘n moontlike nuwe vlaag na die Feesseisoen omdat persone reis en bymekaar kom. In die verband het die gesondheidsminister, dr. Kalumbo Shangula ‘n beroep op landsburger gedoen om hulle voor die Kerstyd in te ent. Hy sê dit is oor en oor bewys, ook plaaslik, dat persone wat nie teen Covid ingeënt is nie, sieker word en ‘n hoër risiko het om te sterf. Namibië se gesondheidstelsel is gedurende Junie en Julie op sy knieë gedwing met pasiënte wat by hospitale weggewys is omdat daar geen beskikbare beddens was nie. Tekorte aan suurstof, grafte en spasie in lykshuise is ook ervaar. ‘n Totaal van 2 227 Namibiërs het tydens die derde vlaag van die Covid-pandemie hulle lewens verloor met 1 501 in Julie verloor en 726 in Junie.