4 000 sonder water, tenk reeds drie maande stukkend
‘n Tekort aan fondse om ‘n watertenk te herstel het veroorsaak dat drie nedersettings in die Kongola kiesafdeling reeds vir drie maande sonder water is. Volgens berigte word ongeveer 4 000 inwoners hierdeur beïnvloed. Al drie nedersettings deel die watertenk en die water word vir beide huishoudings en vee benut. Gemeenskapspleiers het aan nuusagentskappe gesê dat hulle water by ‘n naburige nedersetting, wat drie kilometer weg is ontvang, maar dat bronne daar ook onder druk is. Die volgende beskikbare waterpunt is 12 kilometer ver. Owerhede sê fondse is nie beskikbaar nie maar dat daar wel planne is om ‘n nuwe boorgat met ‘n sonkragstelsel daar te stel om die probleem op te los.