16 VN-personeel in Addis in hegtenis

Meer as ‘n dosyn Ethiopiese personeellede wat vir die Verenigde Nasies werk, is in Addis Abeba in hegtenis geneem in aanvalle wat tydens die noodtoestand op inheemse Tigrajane gemik is. Die regering onder eerste minister Abiy Ahmed het ‘n week gelede ‘n landwye noodtoestand van ses maande aangekondig, te midde van groeiende vrees dat rebelle van die Tigray People’s Liberation Front en Oromo-bevrydingsweermag na die hoofstad kan opruk. Internasionale nuusagentskappe berig menseregtegroepe het die noodmaatreëls verwerp. Daarvolgens kan enige iemand wat van terrorisme verdink word, deursoek en sonder ‘n lasbrief aangehou word.