Zuma se private vervolging van Ramaphosa tersyde gestel

Die hooggeregshof in Johannesburg het beslis oudpresident Jacob Zuma se private vervolging van sy opvolger, Cyril Ramaphosa, is onregmatig en het dit tersyde gestel. Die uitspraak kom nadat Ramaphosa aansoek gedoen het om die vervolging te staak, wat begin het net voor die ANC se kieskonferensie verlede jaar. Zuma het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy aandadig is aan die beweerde uitlek van sy persoonlike mediese rekords. Die hofuitspraak bepaal Zuma se poging om privaat te vervolg, gegrond op die klagtes en bewerings, word opgeskort en tersyde gestel. Ramaphosa se woordvoerder Vincent Magwenya sê die President verwelkom die uitspraak.