Zim se sentrale bank waarborg ZiG se reserwes

Zimbabwe se regering sal verseker dat die nuwe geldeenheid, die Zimbabwe Gold of ZiG, ten volle deur reserwes gesteun word, sê die sentrale bank se goewerneur, John Mushayavanhu. Hy het aan Reuters gesê dit is die enigste manier om vertroue te bou. Die ZiG is die land se sesde poging tot ‘n plaaslike geldeenheid in 15 jaar, ná hiperinflasie onder voormalige leier Robert Mugabe. Mushayavanhu sê die regering het ‘n plan tot 2030 om die gebruik van die ZiG te verhoog en goud- en buitelandsevaluta-reserwes op te bou. Die reserwes het op 285 miljoen Amerikaanse dollar gestaan toe die ZiG bekendgestel is in April, en oorskry nou 380 miljoen dollar.