Zim-burgers sal berading kry as hul terugkeer huistoe

Die Zimbabwiese regering sê hy sal berading verskaf aan landsburgers wat na die verstryking van hul vrystellingspermitte na die land terugkeer vanaf Suid-Afrika om hul gladde herintegrasie te verseker. Die permitte sou in Desember verlede jaar verval, maar ‘n verlenging van ses maande is tot 30 Junie toegestaan. Na raming is 180 000 Zimbabwiërs in Suid-Afrika op die permitte en teen Desember verlede jaar het minder as 10 persent vir die beskikbare hoofstroomvisums aansoek gedoen. Sommige het gehoop dat die Zimbabwiese regering met sy Suid-Afrikaanse eweknieë sou skakel vir ‘n verdere verlenging. Dit was egter nie die geval nie. Diegene wat egter van plan is om terug te keer na Zimbabwe sal toegang hê tot beradingsdienste om hulle geestelik voor te berei vir wat voorlê.